How to pension!

Ons het pas AFgetree maar kan nou OPtree elders! 

Klink surreal want ons het baie hard gewerk, soms 18ure per dag. Die ou wat vir jou sê sukses is maklik praat akkies. Babas terselfdertyd grootgemaak.  

Ek het deeltyds vir 5 spesialiste getik [daardie dae] aan hulle pasiënt verslae, wat volgende dag móés terug vir nuwes… soms tot 03:00 gewerk net hiervoor.  

Rudy was voltyds by Armscor/Denel in Irene en het deeltyds elektriese installasies gedoen… soggens 05:00 uit op ‘n job, lig gemaak met die kar se ligte…. dan terug, dan op die fiets van Garsfontein na Irene, dan stort en werk, dan weer terug.  Saans ná ete weer terug na die elektriese job, karligte om te werk, dan terug laat saans, slaap en môre dieselfde patroon.  Vanaf 1978 -  1983 het dit so aangehou. Hy moes van skooldae elke Saterdag saam met sy pa werk [hy was ook ‘n elektriese kontrakteur, deeltyds].

Roodbol Bou & Elektries: Net die twee van ons met gedeelde titels soos CEO, Manager, Finances, Admin, HR, Accounts, Project Management, Property - Letting and Sales, Electrical Tenders …. die lys hou aan - ‘name it and we’ll claim it!’  Dit was Mei 1983, 35 jaar gelede, wat ons voltyds begin het met elektriese installasie van huise, later aankoop van eiendom [Roodbol Property] vir oprig van duette en vandaar het die dinge aan die rol gegaan. 

Vrot kliente [die rykes] en nice kliente. Ouens wat jou amper finansieel sink en ouens wat jou onmiddellik betaal – dis die gemiddelde salaristrekkers wat ons beste kliente was! Die ‘ryk’ grootbekke het ons in elk geval nooit aangestaan nie – hulle weet nie hoe om eties te leef nie. Heeltyd abusive. En nie lank, dan vat die bank hulle goed terug. 

Maar nou het ons TOEgemaak en kan iewers anders OOPmaak waar ons hand iets vind om te doen.  Eers het ons koppe op- en afgewieg [… lol, ek moes dit net noem, lyk soos twee oumense wat op hul stoep sit en knik-knik!] waar ons wil bly, wil ons trek en hoekom, wat ons wil doen, hoe nou, hoe dan…. tot ons agterkom dat ons weer stress oor goed wat verseker nie nodig is nie! Ons is so gewoond aan vinnige besluite neem, ons weet dit nie eers meer dat ons dit doen nie!!

Ons besluit toe op ‘n Sabbatsjaar om behoorlik af te koel, rustig[er] te word voor ons groot besluite neem, indien enige.  Die sonde van haastigheid was ‘n dúúr les toe ons Knysna toe was vir drie jaar. Groot besluite MAG nie in the spur of the moment geneem word nie.  OF as mens so vodde is dat jy skaars kan dink.  

Dit sal nou beteken dat ek van nou af later kan slaap, Rudy ting-ting aan goetertjies in sy werkswinkel, elke kar word onderhou en ons vra nie vir mekaar ‘wat doen jy vandag nie’! 

Ons kan in die week SAAM kuier by Sam & Suzette [oudste vriende wat ons het! – pas UITgetree, hulle kinders neem hul besigheid Hybrid Electrical & Plumbing oor], koffie en koek elders of na die kinders in Hoedspruit. 

Baie mense voel altyd so skuldig, groot siekte veral by ons Roodbolle [ons het dit in ‘n groot kuns ontwikkel] om skuldig te voel as jy nie werk want – o wee - die nag kom nader! Ek sal moet OPtree teenoor onnodige skuldgevoelens! 

Die mini-tak van Chamberlain [elke-ding-wat-jy-kan-aan-dink-kantoor van Rudy] begin lyk soos ‘n kamer! Die rakke der rakke begin leeg word, maar eintlik verskuif hy net die studeerkamer na die garage!  Of sit goed by my neer wat ek moet besluit of dit nut het of weggee/weggooi.  Ai, die besluite hou nie op! 

Stadig maar seker sal die Roodbol huis-kantore net in ‘n lekker woonhuis omskep wees.  Maar die allerheerlikste is dat daar nie meer Afrikane is waarmee ons moet werken teenoor wie ons verantwoordelik voel nie. Niemand het in al die jare by ons weggegaan nie [hoekom sou hulle, die meneer en sy vrou maak dit mos alte lekker met soveel voorregte, baie meer geld as elders en finansiele hulp aan kinders en andere van die extended familie].  

Mei 2018: Om die UIF, SARS, Pensioene uit te sorteer, vorms der vorms af te handel, finansies/boeke was baie meer werk as om die besigheid te moes begin!  Laat julle gaat, menere. Rudy en Brenda is nou buite weste by tuis bes! IN hul Sabbat rus.


Comments

Popular Posts