Vriende vs Kook

Het jy ‘kennis[e]’ wat kook-beterwetig is? 

Geen name word genoem sodat niemand weet of dit ‘n kennis/familie/vriend is nie! Ek het ‘n paar sulkes – van ‘n paar kon ek afstand doen omdat my woede oorgekook het. 

Een wat ‘so ‘n goeie braaier’ is wat ons fillet [wat ons gebring het!] in sy hel verbrand het. En dit nadat ek gevra het of Rudy dit maak kan braai, hy is ‘n baas-fillet-braaier [regtig]. Nee, die ou gryp die fillet, neuk dit op die braaier, sout en peper sommer en drink verder. Hy word later so loud dat ons mal word hier waar ons nou moet sit en kyk hoe die geld verbrand. Ek het maar later hard gevra hy moet dit afhaal want dis klaar verbrand. Die tipe ouens weet nie van ‘ek het jou goed opgeklits maar ek is bitter jammer’. 

Dan iemand wat ‘n self-opgeleide chef is…. ken julle hierdie tipe mens? Self-taught chef… whatever. Ek vra of ek asb. iets kan doen…. Ek meen, ek kan mos ook iets kleins bydrae in die kombuis. Ja, dankie. Maak jy die slaaitjie… Hoe hou julle daarvan, vra ek? Nee, nes jy dit wil opdien. Doen ek toe. Ek kom by die tweede ingredient, tamaties, en word dadelik gehokaai! Nee, mens sny nie tamaties so nie, maar so…skreeu dit in my een oor! Ek vra toe of haar self-vertroue in die bak slaai is wat ‘sy’ opdien want ek sal vir almal sê dis ék wat dit gemaak het. Sy hoef nie te worry oor haar naam nie. Nie gedink ek is snaaks nie. 

'n Ander een wil nooit dat ek kook nie. Toe raak ek moerig vir die kos wat sy altyd hier aandra as hulle besluit hulle sal hier eet… ek mag niks maak nie, nie eers ‘n ou slaaitjie nie. Die flippen arrogansie. Dat ek só stupid is om te dink mens kan ‘n vriendskap behou met sulke stront. Ewenwel, daardie dag maak ek kos, lekker genoeg dat my mense altyd hulle vingers aflek. My skoondogters ook en die een is ‘n regte opgeleide chef! Ek vra die vriendin ernstig: gaan sit buite en drink jou wyn, ek wil asb. sélf kook en die laaste dinge doen – jy maak my nervous…. 

Kom staan die vrou agter my toe ek die mushrooms in die bak sny… o nee, gil dit! Hoekom sny jy die stingeltjies af van die mushrooms?! Dis dan eintlik die lekkerste deel van die mushroom! Ek draai om, vra so in die loop sy moet asb. die kos klaar maak en gaan drink my wyn saam met die manne. Doodloop van vriendskap. Uiteindelik. Dit was tyd. 

Waar kom die mense vandaan om so arrogant te wees? Is dit werkik ‘n swak selfbeeld dat hulle hulself moet ophemel en maak of hulle beter weet? Dis die power hunger - hulle wil jou iets leer al weet jy dit [beter]. Is dit duisende kookboeke op die rakke dat mense half minderwaardig voel oor hulle kookvermoë, maar dit nie wil wys nie? 

So what as elke vyfde ou net by die en daai restaurant wil eet, want die en daai chef werk daar? Eet jou teelepel groente en strip chicken met appel puisie mouse en betaal jou vakansie geld. 

Ons hoef nie perfek te kook nie. Ons moet dit laaik! Ek hou van prut-prut, lekker geure en kleure en my gin is nie ver nie. As iemand by my in die kombuis kom sit, net so nice. Hou net jou mond en ons bly vriende! Ons moet uitsien na die gesels, vriende – die ete is net ‘n bysaak [dis nié die belangrikste aspek van ‘n get-together nie]. 

Drankies is ook op die spyskaart, maar ASB, behou julle sinne. NIKS so erg soos ‘n dronk mens nie, vieslik om te aanskou! Dan loop ek regtig vining huistoe. Niks met die gasvrou se kos te doen nie! 

Ek het al goed gemaak wat nie gewerk het nie, maar ons vriende ken my - hulle gaan my nie drop omdat my reseppie nou nie juis volgens die boek lyk nie! So what? Ons lag almal saam en skink nog 'n glasie wyn! 

En asb., nooi mense wat bymekaar pas… g’n vrotter spul as mens niks of min in gemeen het nie. As dit jou familie is, moet nie jou pals ook sommer nooi nie, tensy jou pals saam met jou kinders grootgeword het? Hou dit klein dan kom jy by almal uit. 

En nie mammas/oumas hierdie kant en pappas daardie kant nie. Bestaan dit nog? 

En as jy nie ‘n kok van formaat is of nie LUS is vir kook nie, soek uit by WW wat jy wil hê vir ‘n fantastiese aand. Geen stress vir die ‘kok’. Jou slaaitjie koop jy ook soos hy moet wees en moet lyk. 

Bon appetite!

LikeShow More Reactions
Comment

Comments

Popular Posts